SHOWING ARTICLE 173 OF 193

Mondelinge wysigings van 'n ooreenkoms - is dit geldig?

Category Seymore du Toit & Basson

Jy besluit om 'n kothuis te huur van 'n vriend om in sy agterplaas te woon vir 'n jaar of twee. Julle albei stem saam dat dit wys sal wees om 'n huurooreenkoms te sluit en die nodige ooreenkoms word opgestel. Alles gaan goed totdat die maandelikse huur moet verhoog in terme van die ooreenkoms. Jy bespreek die situasie met jou vriend wat mondelings instem om die verhoging te skrap. Maar is dit voldoende en kan jy wettiglik staatmaak op net sy woord?

Kontrakte reël die verhouding tussen partye tot 'n wetlike transaksie en is bedoel om sekerheid te verskaf en geskille te vermy wat moontlik in die toekoms kan ontstaan. Partye kan dus kies hoe hulle hul situasie gereguleer wil hê ten einde te verseker dat hul verhouding harmonieus bly. Of jy dus kan staatmaak op die geldigheid van jou vriend se woord om van 'n kontraktueel vasgestelde verhoging afstand te doen sal dus afhang van of daar 'n geen-wysing klousule in die kontrak ingesluit is aldan nie. 'n Geen-wysing klousule beteken in wese dat die kansellasie of wysiging van ‘n ooreenkoms van geen effek sal wees as dit nie op skrif gestel is en deur beide partye onderteken is nie. Die voorrang van 'n geen-wysing klousule is in Xtraprops 66 (Pty) Ltd v Phiopater Supplies (Pty) Ltd op die proef gestel.

In hierdie saak het die applikant aansoek gedoen vir die uitsetting van die respondent wat agterstallig was met huurgeld ten opsigte van 'n besigheid wat die respondent gehuur het van die applikant in terme van ‘n huurooreenkoms. Die respondent het die aansoek teengestaan op grond van 'n beweerde ooreenkoms wat mondelings gesluit is tussen verteenwoordigers van die applikant en respondent en waarin die applikant onderneem het om die respondent se finansiële swaarkry in die nakoming van sy huurverpligtinge te akkommodeer deur die ontvangs van 25% van die daaglikse wins van die restaurant wat bedryf word deur die respondent op die huurperseel. Die respondent beweer dat hy voldoen het aan die bepalings van die mondeling gewysigde ooreenkoms, maar die applikant betwis die geldigheid van die gewysigde ooreenkoms op grond van 'n geen-wysing klousule ingesluit in die huurkontrak.

Om te bepaal of die mondeling gewysigde ooreenkoms die potensiaal het om die geen-wysiging klousule te verander, het die Hof staatgemaak op 'n gevestigde beginsel in ons reg wat bepaal dat wanneer partye formaliteite kontraktueel vasmaak soos byvoorbeeld die vereiste dat enige ooreengekome kansellasie of wysiging van hul ooreenkoms skriftelik moet wees en deur beide partye onderteken moet word ten einde van krag te wees, die partye dan hulself bind deur so 'n kontrak om te voldoen aan die formaliteite. Enige daaropvolgende ooreenkoms waarop die formaliteite betrekking het sal dan onafdwingbaar wees tensy gesluit in ooreenstemming met hierdie formaliteite. Met ander woorde, aangesien die partye in hierdie geval gekies het om 'n geen-wysiging klousule in te sluit in hul huurooreenkoms, hulle dienooreenkomstig hulself verbied het om hul huurkontrak mondelings te wysig.

Om enige vraag na die geldigheid van 'n mondelinge wysiging van 'n kontrak te beantwoord, moet jy terugkeer na die bepalings van die kontrak. Tensy die kontrak uitdruklik voorsiening maak dat wysigings skriftelik moet wees en deur die partye onderteken moet word, sal mondelinge wysigings wel geldig en afdwingbaar wees, alhoewel dit nodig sal wees vir die partye om die bestaan van sodanige mondelinge wysiging te bewys - iets wat baie moeilik mag wees. Dit is dus altyd veiliger om dit slim te speel en te verseker dat jou wysigings op skrif gestel worde en deur beide partye onderteken word.

Bron: Seymore du Toit & Basson Prokureurs

Author: Pierre Rousseau

Submitted 14 Jul 16 / Views 6702