SHOWING ARTICLE 183 OF 193

Moet ek n spesiale deeltitel-heffing betaal?

Category Seymore du Toit & Basson

Ek oorweeg dit om eiendom in ‘n deeltitelskema te koop. Die eiendomsagent het genoem dat ‘n normale heffing elke maand betaalbaar is maar dat die trustees van die regsliggaam van die skema die gesag het om van tyd to tyd ‘n verdere spesiale heffing te bekragtig. Ek was bewus van die normale maandelikse deeltitel-heffing, maar wat is ‘n spesiale heffing?”

Dikwels is kopers en eienaars onbewus van die finansiële implikasies verbonde aan die besit van ‘n deeltitel-eenheid. ‘n Belangrike aspek daarvan is om bewus te wees van, en te onderskei tussen ‘n normale maandelikse deeltitel-heffing en ‘n spesiale heffing. Hierdie heffings word nie op dieselfde manier bepaal nie en die persoon aanspreeklik vir die betaling daarvan mag ook verskil. 

Artikel 37(2A) en voorgeskrewe Bestuursreël 31(4B) van die Deeltitelwet bied aan die trustees van die regsliggaam van die deeltitelskema die diskresie om spesiale heffings te hef deur ‘n resolusie tot daardie effek te bekragtig. Die trustees kan egter slegs ‘n resolusie vir ‘n spesiale heffing bekragtig onderhewig aan die volgende twee vereistes. Die eerste vereiste is dat die spesiale heffing nodig moet wees – dit beteken dat dit dringend moet wees en nie kan wag om in die volgende finansiële jaar se begroting ingesluit te word nie. Die tweede vereiste is dat die uitgawe nie alreeds ingesluit mag wees in die jaarlikse begroting van die skema nie. Die trustees het verder ook die diskresie om te bepaal of die spesiale heffing in ‘n lompsom betaal moet word of in paaiemente oor ‘n sekere tydperk.  

Die Deeltitelwet maak voorsiening dat die persoon wat die deeltitel-eenheid besit by tye van die bekragtiging van die resolusie vir die spesiale heffing, aanspreeklik is vir die volle bedrag van hierdie heffing. Dit beteken dat sou ‘n spesiale heffing bekragtig word en ‘n eienaar sy eenheid daarna verkoop, daardie eienaar aanspreeklik bly vir die volle betaling van die spesiale heffing voordat die eenheid na die nuwe eienaar oorgedra kan word. Die regsliggaam van die deeltitelskema kan selfs sodanige betaling as voorwaarde stel vir die uitreiking van die heffingsuitklaring-sertifikaat wat benodig word vir die oordrag van die deeltitel-eenheid.   

Oor die algemeen is spesiale heffings slegs vir noodgevalle en om onvoorsiene uitgawes te hanteer of uitgawes wat onvoldoende voorsiening voor gemaak is in die jaarlikse begroting, en moet nooit gebruik word vir onderhoudsuitgawes wat in die jaarlikse begroting van die deeltitelskema ingesluit moet word nie. Wat ook al die doel daarvan, as die resolusie bekragtig is, sal die eienaar van die deeltitel-eenheid die spesiale heffing moet betaal.

Bron: Seymore du Toit & Basson

Author: Pierre Rousseau

Submitted 14 Apr 16 / Views 2512